Hierdie resep is vir 'n brood met 'n bietjie
rogmeel. Ek het die meelmengsel aangepas vanaf my eerste poging omdat
die deeg toegeslaan het. Daar was te veel growwe meel in die mengsel.
Die brood het 'n soet smaak is is swaar. Dit sal deurgaan vir 'n lae
GI brood omdat daar semels en heelkorrel rogmeel in is.
Ek kon net gebreekte rogmeel kry. Dit is erg grof,
toe sit ek dit deur die koffiemeul vir so 20 sekondes. Die koffiemeul
werk soos 'n versapper, so mens kry nog steeds growwe stukkies. Maar
daar is darem genoeg fyn rogmeel om prakties bruikbaar te wees.
Hierdie brood het ek gebak in die oond met net die
boonste element (“grill”) aangeskakel. Stel die oond op so 225°C
en gebruik die waaier as die
oond een het. Die brood kom op die middelste rak. Bak die brood vir
30 minute of tot die kors bo mooi bruin is. Skakel dan die oond af en
los die brood daarin vir nog 15 minute.
As jy nie 'n oond
het nie kan jy een prakseer met 'n pan vol kole bo-oor 'n groterige
pot op die kole. Dan het jy hitte van bo en onder. Amper soos vir 'n potbrood, behalwe die brood maak nie die hele pot vol nie, net sy eie pannetjie.
Die mooi patroon
bo-op die brood kry jy deur die kors te sny na so paar minute in die
oond. Dit doen jy sodat die brood eweredig rys tydens die bakproses.
Anders mag jy perdalks 'n skewe brood kry.
Hierdie is weereens
'n samegeflansde resep uit verskillende bronne op die internet.
Bestanddele
1 koppie witbroodmeel
1 koppie bruinbroodmeel
½ koppie volkoringmeel
½ koppie rogmeel
1 pakkie droeë
gis
1 teelepel suiker
½ koppie warmerige
water vir die gis
1½ koppie
warmerige water vir die deegmengsel
1-2 teelepels
botter
knippie sout
Metode
Suurdeeg
Meng die gis,
suiker en ½ koppie warm water goed en laat dit staaan om te
aktiveer. Dit moet so lekker borrel en kook voor jy dit gebruik.
Deegmengsel
Kap die rogmeel fyn
in die koffiemeul. Meng dan al die droeë
meel saam met die sout en die botter. Ek het die botter gesmelt, by
die droeë meelmengsel gevoeg en deurgewerk met 'n handklitser
(“whisk”). Voeg nou die geaktiveerde gis by die mengsel en werk
dit goed deur met 'n houtlepel of 'n spatel. Voeg die res van die
warm water bietjie-vir-biejie by en hou aan meng. Die mengsel moet
net droog genoeg wees om nog effens aan die mengbak te kleef. Dis so
effens droeër as 'n pappery. Meng goed met die hande. Maak jou
vingers nat, anders sit al die deeg daaraan vas. Knie vir so paar
minute totdat die deeg mooi taai begin word. Maak dan die bak toe met
'n klam doek en laat die deeg rys totdat dit verdubbel het in volume.
Dit neem so twee ure, maar die tyd wissel na gelang van die
temparatuur en 'n paar ander faktore. Soos die styfheid van die deeg
en die tipe gis. Hou by die volumetriese verwysing van dubbel die
volume.
Knie dan die brood
af tot sy oorspronklike volume en sit in die oond vir 30 minute. Maak
'n paar snye met 'n skerp mes bo-op die brood na 'n paar minute sodat
dit eweredig kan rys.
Nadat die brood
mooi bruin gebak is kan jy die oond afskakel en die brood nog in die
oond los vir so 15 minute. Haal dit dan uit en gooi dit uit op 'n
rakkie om af te koel voordat jy dit eet. Die kors sal dan ook mooi
stewig word.
Lekker eet!
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
No comments:
Post a Comment