Hierdie is die volgende eksperiment wat gewerk
het: 'n dis wat in een pot of pan gekook word. Hierdie gereg is dan
ook een van daardie wat min gas of krag gebruik en wat maklik is om
te maak.
Veral aan boord van 'n klein vaartuig op die oop
see.
Hierdie spesifieke resep is eintlik 'n versameling
van idees. Risotto is normaalweg 'n pot-pourri van bestanddele en
bestaan uit uie, rys en dan groente en vleis na jou eie
vindingrykheid. Of die oorskiet in die yskas. Jy sal die oorskiet nie
herken nie.
Die rys word geroerbraai in die sappe van die
vleis, daarna aangevul met 'n skeut of wat droeë
witwyn en/of sjerrie. Verdere vog is groente of hoenderaftreksel,
daarna warm water. Die dis word deurgaans geroer tot die rys die vog
opgeneem het, waarna die vog weer aangevul word. Dis rys moet so
pappery wees.
Die
voorbereidingstyd vir hierdie dis is in die omgewing van 20-30
minute, dan eet jy.
Bestanddele vir 4 etes
1 mediumgrootte ui
1 prei
3 halms sprietuie
vir garnering
2-3 huisies vars
knoffel, gekap en fyngedruk
½ brandrissie
1 koppie rys. Die
resepte op die internet vereis arborio-rys. Ek het jasmynrys gebruik.
Die “sticky rice” wat vir sushi gebruik word is waarskynlik die
beste. Jy soek rys met baie stysel en wat maklik pap kook.
250g ontbeende
hoender in blokkies of repies gesny
300g sampioene. Ek
het vars Pine Rings ( Lactarius deliciosus) gebruik. Jy kan ook
gewone sampioene gebruik.
50 g gerasperde
Parmesankaas
½ koppie room
½ koppie droeë
witwyn
1 koppie
hoenderaftreksel
2-3 koppies water,
soos nodig
Skeut kookolie
sout en peper
Metode:
Braai die hoender
en sampioene tot die hoender mooi bruin is. Verwyder dit uit die pan
en hou dit eenkant. Hou die sappe in die pan. Voeg die gekapte ui en
prei by en roerbraai dit tot die ui deurskynend is. Voeg dan die
knoffel en brandrissie by en braai dit nog vir 'n minuut of twee.
Voeg nou die rou rys by die pan en roerbraai dit tot dit die sappe
geabsorbeer het. Voeg dan die witwyn by en hou aan roer tot dit ook
geabsorbeer is. Voeg nou die hoenderaftreksel by terwyl jy aanhou om
die dis te roer. Die rys moenie vasbrand nie, dan kan jy maar oor
begin. Voeg daarna die water bietjie vir bietjie by en toets gereeld
die rys vir gaarheid.
Wanneer die rys
begin sag kook, sit die hoender en sampioene weer terug in die pan en
roer steeds. Toets dan vir sout. Die dis sal nou begin dik raak soos
die rys die water absorbeeer en die stysel loskom. Garneer die dis
met die gekapte sprietuie en skakel die hitte af wanneer die rys gaar
is na smaak. Sit die deksel op die pan en laat die dis rus vir so 10
minute. Strooi die gerasperde kaas oor die dis net voor jy opdien, of
roer dit deur voor die dis rus. Die keuses is legio.
Ons het sommer uit
die pan opgedis. Hierdie gereg werk goed saam met 'n droeë
witwyn.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12