2012-01-09 17h40
Dis nou Maandag sononder in
Tortola. 'n Idilliese aand met die son wat nog skyn agter die eiland
se koppe en weerkaats teen die wolke. Daar is net 'n effense luggie
wat trek, genoeg om die hitte draaglik te maak.
Almal het 'n middagslapie
gevang in die hitte. Dis interessant, daar is steeds die gemurmel van
klein stroompies water van oral af om ons. Dit het 'n rukkie geneem
om te verstaan dat dit die kondensaat is van die bote om ons se
lugversorgers.
Maar dit bly 'n rustige
geluid. Ek het nou die musiek aangesit. Klassieke musiek. Rustige
goed. Die Aankoms van die Koningin van Skeba. Weereens. Goed, wel,
miskien nie so rustig nie. Maar dit pas by die atmsofeer.
Ons het toe die boot
oorhandig. Met 'n antiklimaks. Werk ons arms stompies, kompleet met
die rekwisiete rugpyn wat daarmee gepaard gaan. En dis onmenslik
warm. En toe gee die inspekteur net een kyk en sê
die boot is mooi skoon. Darana gaan sit hy en teken papiere vir so
veertig minute lank. Daar is rerig baie papiere. En maak kopieë.
Voila, einde van die taak. Amptelik.
Ons drink toe maar 'n ekstra
bier so ter viering. Maar nog is't einde niet. Pret en plesier om ons
terugreis te reël. Die
persoon in die Kaap wat dit moes doen het bietjie vergeet. Sy het
natuurlik 'n ander storie, maar ek hou van hierdie een en dis my
joernaal. En buitendien, ons is die party aan die kortste end. Die
skipper bel toe maar die reisagent direk om seker te maak ons kan
uitvlieg. Ons kry toe bevestiging van hulle af en toe ook later per
e-pos van die verantwoordelike party in die Kaap. So op die einde van
die werksdag in die Kaap en minder as 24 uur voor ons op die
vliegtuig moet wees. Studente-sindroom in die oortreffende trap as jy
my vra.
Dis wyd beskryf in die
akademiese literatuur oor statistiek en nie juis moeilik om te
identifiseer nie. Dit verstom my dat mense in die normale handel en
wandel nog nie meer moeite doen om dit hok te slaan nie. Dit mors
geweldig tyd vir 'n firma, met die meegaande verlies aan inkomste. En
mens is altyd laat.
Ek het ook lank en lekker met
Carol oor die internet gesels, 'n rustige en intieme gesprek. Die
gesprek van twee ou getroudes wat hulle emosies en ervarings deel.
Dit was vir beide van ons 'n lang skeiding na 'n jaar van trauma, so
met Werner se oorlye, die verhuising na die Kaap, my knieoperasie en
die heen-en-weer gevliegery tot ek uiteindelik my kennismaand
afgewerk het.
Hierdie skeiding was baie
duidelik 'n katarsis vir beide van ons. 'n Tyd om alleen te wees met
jou emosies en kans om jou siel skoon te kry. Dis nie so slegte ding
om te doen nie. Mens het 'n wilsbesluit gemaak en dit deurgevoer. Dit
maak altwee sterker en bou aan die verhouding. Dis my gevoel na
vandag se geprek met Carol.
Dit is asof die oujaar se
trauma afgewas en verbrokkel het, die rowe genees. Nou kyk 'n mens
vorentoe na die toekoms met nuwe drome en planne in jou kop, sterre
in jou oë en 'n lied in
die hart. Hierdie seereis was die begin van 'n nuwe lewe vir my.
Klomp ou spoke is besweer, ek het nuwe ervarings opgedoen en nuwe
werelddele gesien.
En beleef. Dis glad nie so
vreesaanjaend soos wat rusbank-reisigers wil hê
nie. Ook glad nie soveel ontbering nie. Bietjie ongemak, ja.
Ontbering, ja, bietjie. Baie ontbering as jy die gebrek aan
telefoonkommunikasie, koerante, internettoegang, televisie en so aan
byreken. Maar die sielkundiges sal dadelik vir jou sê
dat al hierdie goed jou net oprui. Verseker is 'n transatlantiese
reis nie op almal se boeke of in hulle smaak nie. Een keer per week
stort in vars water, behalwe as dit reën.
Drie ure aan diens, ses ure af. Ons was drie aan boord. Ses weke
lank. Min of meer soos Noag van ouds, ek het dit al voorheen gesê.
Twee-en-veertig dae. Dis definitief nie vir almal nie.
Maar hier in Tortola, waar
daar baie somer, son en saffier is, is dit anders. 'n Halwe dag seil
op platterige water tussen eilande. Dis 'n vakansie-ervaring by
uitnemendheid. En glad nie ontbering nie.
Jy is altyd naby winkels, die
dokter en die apteek. En lekker vars groente, drie soorte aartappels
en 'n paar goed waarvan ek nie die name ken nie. Die boot gee jou die
vryheid om te gaan net waar jy wil. Die landskappe is ongelooflik
mooi en die mense in die algemeen vriendelik. Jy hoef nie in 'n
marina te oornag as jy 'n boot het nie, jy anker in 'n mooi baaitjie
en hou 'n intieme en gesellige aand op die water. Met jou baaikostuum
of ander min klere aan, dis vrek warm. En gaan slaap dan in jou bed
wat wieg op die ligte deining. Niks slange of skerpioene wat jou wil
bykom nie en jy kan ver genoeg van die land af wees dat die paar
muskiete jou ook nie pla nie.
Ek het die ontbering en
ervaring van 'n lang seereis, en toe die openbaring in hierdie
paradys. Dis iets om te koester.
More vlieg ons hier uit. Die
terugreis het drie bene, vier as jy die vlug van Johannesburg af Kaap
toe bytel. Ons sal meer as 26 uur in transito wees. Die heenreis was
6200 seemyle, die terugreis is met 'n langer pad, maar neem net 26
uur.
Die heenreis se ervaring was
'n pad deur jou siel en het jou denke oopgemaak en verbreed. Die
terugreis is soos om in 'n hysbak te sit vir 'n dag lank, met so hier
en daar 'n interlude waar jy mag uitklim om jou bene te rek.
Ek verkies die heenreis se
ervaring en verdra die terugreis se ongemak.
Dit bring my terug na my
geliefde.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
No comments:
Post a Comment