2012-01-01 18h15
Nuwejaar. Tobago. Dit was toe
'n heel aangename interlude. Ons het reeds vroegoggend aangekom in
Charlotteville, 'n dorpie aan die noord oostelike punt van die
eiland. Die dorpie is geleë
in die arms van 'n kom in die rante, met 'n noordelike aansig op die
see. Die kom vorm 'n mooi baai waar ons veilig kon anker buite die
oostewind se bereik. Diue laagdrukstelsel het ook reën
en wolke gebring, toe is dit aangenaam warm. Ons het sommer 'n swem
gevat so vroegoggend en al. Drikus en Renier het oorgeswem na 'n
ander boot toe om 'n geleentheid te bedel tot by die kaai. Die dorp
se amptelike ure is so van tienuur soggens tot vyfuur in die middag.
Maar niemand beweeg juis rond voor elfuur nie. Ons het so teen
nege-dertig ons geleentheid gekry land toe, nadat ons sommer twee
biere gdrink het in die aanloop na ontbyt.
Die dorp is maar klein, maar
daar is selfone op die eiland, 'n outoteller om plaaslike geld te
trek en les bes, die dorp het 'n krieketveld kompleet met ligte. Die
krieketveld werk sommer ook as 'n sokkerveld. Die immigrasie en
doeane is sommer in een gebou, twee kantore oorkant mekaar. Die mense
is vriendelik en werk teen eiland-tempo. Dis bietjie soos eiland-tyd.
Lekker rustig, niks om oor te haas nie en baie tydsaam. Selfs die
voëls vlieg stadig.
'n Uur of wat later is die in-
en uitklaar afgehandel en ons kan loop soek na ontbyt. Ontbyt begin
met 'n plaaslike bier, Carib Lager. Koud soos dit hoort en 5.2%
alkohol. Dit hou die hitte weg.
Later soek ons toe rond vir 'n
internet-kafee. Dis toe inderdaad 'n kafee, so shack vol muskiete.
Dit is in 'n hoekie van die wassery. TT$10 vir 'n halfuur.
TT$1=R1.30. Trinidad & Tobago Dollar. Die geldeenheid is
bestendig TT$6= US$1. Die internet-kafeehet 'n spul muskiete. Tien
meter van die see af, bid jou aan. Ek kry darem 'n paar e-posse uit
om vir Carol te laat weet ons leef nog.
Toe is ons eers weer dors en
drink nog 'n bier by 'n straatkroegie. Dis 'n sinkdak-afdak aan 'n
betongebou van so 3m by 4m. Maar die bier is koud. Terug op die boot
vang ons weer 'n vinnige afkoel swem en daarna 'n middagslapie voor
die aand se feestelikhede. Telkens moet ons maar reël
vir 'n geleentheid boot toe of kaai toe. Ons het mos nie 'n tender
nie.
Die aand sit ons toe lekker en
gesels met ander jotties (yachties, ek het nie 'n goeie Afrikaanse
term hier nie) en PB's, drink nog 'n paar biere en eet 'n
wegneem-ete. Vis, hoender of bok met skyfies. Nie te duur nie en heel
vullend. Maar dis nog te min na karige roereiers met tamatie, klein
repie spek en tuisgebakte bruinbrood, kompleet met die twee biere en
'n glas lemoensap.
Ons het maar ons bier klaar
gedrink en is toe terug boot toe, bier na die kop. Nodeloos om te sê,
ons het soos klippe geslaap. Maar interessant genoeg, ons al drie was
op op verskillende tye. Die mag van die gewoonte na ses weke op die
see. Ek glo dat die laaste dag of wat ook erg uitputtend was, vir al
drie van ons, so met die gebokspringery van die boot en al.
Dis nogal met 'n tikkie
nostalgie in die gemoed waarmee ek afskeid geneem het van
Charlotteville., Tobago. Dis derde wereld, maar dinge werk en jy kan
lekker ontspan. Die plaaslike taal is engels, mon, Karibiese engels.
Ek is seker daar is voodoo be-oefenaars ook. Maar mens kry vrede in
jou gemoed in die plek.
Ons het so tienuur vertrek en
het maar steeds 'n rowwe see teëgekom,
so twee tot drie meter deining met 'n wind van 20 knope. Renier het
toe maar die roete herbeplan en nou vaar ons onder (suid) om die
eiland Grenada.
Daarna sal ons noord draai in
die Karibiese see en hoop om 'n platter see te kry vir die twee en 'n
halwe dae se seil na St Maarten.
Op die oomblik kan ek al die
ligte op die eiland uitmaak deur die verkyker. Die maan is so half en
is tans reg bo ons. Dit maak vir 'n heel romantiese effek, so tussen
ons babelaas deur. Ons sal seker teen more weer in ons roetine wees
en uitgedroog.
Die alkohol vang mens gewldig
vinnig as jy uitgedroog is. Dit smaak my my liggaam verloor sy
weerstand. 'n Mens sal maar versigtig moet wees tuis. Ons het basies
nog twee etes aan boord oor vir die reis, dan is ons terug in marinas
met stortgeriewe en restaurante.
Dis nog iets om na uit te
sien. Maar nou eers mooi navigeer tussen die eilande, die
skeepsverkeer en die vlak see. My navigasievermoë
is nou goed ge-olie en aan die gang. Goed op dreef, sou ek reken. Die
sekstant navigasie is amper nou oor, aangesien ons van nou
afwaarskynlik redelik baie land sal sien. Miskien nog so twee dae se
lesings bly oor. Daarna is dit kusnavigasie en pilotage tussen
eilande deur.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
No comments:
Post a Comment