2011-12-28 00h10
Woensdag. Ons is nou
ses-en-dertig dae op pad.En dit klink my daar is nou so min of meer
ses dae oor, dan is ons by St Maarten. Dan kook ons nie meer nie,
maak die boot skoon en pleeg dergelike voorbereiding vir die
aflewering. Op St Maarten sal ons moontlik nog toerusting oplaai,
soos kajakke, 'n dinghy, buiteboord enjin en so aan. Die finale
oorhandiging is by Tortola en sal waarskynlik eers Maandag oor 'n
week plaasvind omdat ons eers teen die naweek daar sal aankom.
Daar is 'n nuwe opgewektheid
aan boord. Mens kan dit met gemak aanvoel. Ek sien nogal uit om St
Maarten te gaan ontdek. Ek wil spesifiek 'n foto of twee neem van die
747's wat oor die strand inkom om te land, rakelings oor die mense se
koppe. St Maarten is ook meesal 'n duty-free plek en blykbaar kan 'n
mens lekker inkopies doen. Ek hoop hulle het lekker whisky, ek is al
lus vir 'n dop of twee.
Ek het vanaand kos gemaak.
Spaghetti Bolognese met maalvleis, anys, koljander, 'n klein
brandrissie, sojasous en geblikte sampioene. 'n Knypie origanum het
die garnering voltooi. Ek het die sous dik gemaak met meel sodat daar
genoeg sous sal wees om die vrag spaghetti mee te smeer.
Die resultaat was dat Renier
twee porsies geskep het en toe weer later ene op sy diensbeurt. Dis
nogal lekker as die mense jou kos waardeer.
Ek sal nog, saam met die ander
manne, twee keer kook. Dit klink of hulle ook nog net een keer sal
kook, dan is ons by St Maarten. Ek sal nog een keer viskerrie maak,
hulle het daarvoor gevra. Die resep met die klappermelk. Dit begin
ook een van my gunsteling resepte raak. Ons kook nou al met seewater
want ons sout is effektief op.Dis nog net die sout in die meultjie
wat oorbly, en dan die sojasous. Maar sojasous werk nie in al die
geregte nie.
Hierdie joernaal van my staan
ook knap voor die einde van 'n hoofstuk.Ek dink ernstig daaraan om 'n
blog te bou om al hierdie stories en wedervaringe op te skryf. Dis 'n
liefdestaak en waarskynlik baie werk, maar dis nogal terapeuties vir
my. Die skrywery maak 'n mens rustig en verskaf 'n emosionele
uitlaatklep. En die seilery is fisiese ontspanning by uitnemendheid.
Ek het selfs 'n netjiese sonbruin op my vel gekry, sonder om
sonbrandolie te gebruik. Ek reken dis omdat 'n mens nie heeldag aan
die UV blootgestel is nie. Ons sit meesal binne en lees, dus is die
blootstelling beperk.
Die see se kleur het vandag
subtiel verander van baie helder blou na amper 'n donkergroen blou,
amper 'n olyfkleur. Dis nou die effek van die Amasone se water. Ons
is tans so end noord van die Amasone-delta en so honderd myl van die
kus af. Dit is verstommend om te dink dat 'n rivier so groot effek
kan hê.
Ons het twee visse byna gelyk
gevang, baba Wahoo's. Nogal 'n mooi vis, so lank en maer met
vertikale blou strepe van so 30-40 mm wyd.
Ek is nie seker of my tekening
reg laat geskied aan die mooi vis nie.
Ons het maar ons lyne
opgetrek, want die wind is goed en mens moet die boot stop en die
seil oprol as jy 'n groot vis haak. Die visvangery was maar traag tot
nou toe. Ek vermoed die visse is meer gekonsentreerd in die verrykte
water waarin ons nou vaar.
My navigasie-oefeninge gaan
steeds voort. Die sekstant is nou net 'n instrument en ek begin
verstaan waar die beperkings lê.
Onder andere in die ou omis se oë
se optika. Maar ek kry dit nog steeds goed reg.
Navigasie is nie 'n eksakte
vakgebied nie. Mens moet 'n besluit naak oor die geldigheid van
inligting en die betroubaarheid of integriteit daarvan. Ek het nou
menigmaal op hierdie reis data weggelaat uit my berekeninge omdat ek
besluit het dis nie akkuraat genoeg nie. Dit het 'n groot effek op
die integriteit van die uiteindelike plot wat ek maak. Dis bietjie
soos die raaisel van wat is swart en groot, jy kook daarop en as jy
klaar is hang jy dit in die boom op. Die antwoord is: 'n stoof. Dis
my stoof en ek kan maak met hom wat ek wil. 'n Mooi voorbeeld, op 'n
humoristiese wyse aangebied, van oorbodige inligting of inligting met
'n lae integriteit.
Baie mense sal in hulle koffie
stik as jy vir hulle sê
dat hulle besluitnemingsproses gebuk gaan onder te veel inligting en
derhalwe ontoereikend is vir die die probleem op hande. Hanlon's
razor is die amptelike naam vir die besluitnemingsproses.
Amptelik stel Hanlon's razor
dit so: Asaar meer as een interpretasie is van 'n probleem se
oplossing, kies die eenvoudige een. Op Engels is 'n verwante een:
Never ascribe to malice that what can suitably be explained by
stupidity. 'n Bietjie tong in die kies, maar 'n geldige standpunt.
Hoeveel rustiger sou die wereld gewees het as meer mense so begin
dink.
Hier op die boot werk dit goed
en almal het 'n dik vel gegroei, by wyse van spreke. Die draakstekery
is baie gevat en bereik 'n piek net na aandete. Dis dan wanneer die
kaarte uitgepak word en die lang messe van humor, daardies met die
saagtande met weerhakies in, uitkom. Onder groot geskater, nogal.
Ek het so idee hierdie is die
lekkerste reis in 'n lang tyd vir ons almal. Definitief vir my. Die
jaar wat verby is was baie erg vir my en ek vermoed die laaste
nadraaie is nog nie oor nie. Niks waar 'n mens jou vinger op 'n pols
kan sit nie, net 'n onrustigheid in jou gemoed. Miskien bietjie soos
iemand wat te veel seergekry het en nou 'n skans gebou het.
Maar die lewe is een van
onsekerheid en mens moet dit hanteer. Deel daarvan is dat ek nou
gewoond moet raak aan loop klein treetjies op “stepping stones,”
eerder as om die breë pad
van finansiële slawerny
weer in te slaan.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
No comments:
Post a Comment