2011-12-25 00h10
Kersfees 2011. Hoe het die
jaar ten einde gesnel! Hier sit ek êrens
op die diep blou see in tropiese hitte wat skrik vir niks. Gelukkig
is dit nou nag, en sit mens nie in ‘n plas sweet nie.
Hierdie jaar was vir my baie
erg met Werner se oorlye en die gepaardgaande trauma. Dis heelwat
vererger deur die trek en die operasie op die knie, met die
oor-en-weer vliegery en die uitmekaar wees.
Aan die positiewe kant is daar
die aflossing van al die skuld en die ding van aftrede. Die vryheid
is ongelooflik lekker. Deel daarvan stel my in staat om my drome te
kan nastreef, wat my hier op die boot het.
Ons reis is nou amptelik op
enkelsyfers dae vir die restant. Tans is ons nog by die Brasiliaanse
kus en wel regoor die Amasone-rivier se monding. Dis omtrent ‘n
drie-dag-reis om die monding verby te steek. Maar nou is elke dag
nog ‘n mylpaal om af te tel.
Al hierdie is natuurlik soveel
stories vir die vaak vir die leek. Die enigste manier hoe ons weet
waar ons is, is die GPS en my sekstant en plotte. En selfs die
plotte wat ek maak is net ‘n paar strepies op die papier. Daar is
geen ander detail op die papier as die lengte- en breedtegrade wat ek
teken en name gee, en die strepies en kruisies van ons vordering nie.
Die skaal is te klein. Dus, op ‘n manier, as jy nie die strepies
en syfers op die papier kan verwys na ‘n groot skaal nie, lyk dit
steeds soos die prentjie buite die boot. Blou water reg rondom jou.
Jy sal smaak die land het van die aardbol af verdwyn.
Nou begin die Polinesërs se
benadering sin maak. Hulle reken die navigator trek die land op uit
die see uit. Vir die beeld wat mens sien soos jy naderkom is dit
waarskynlik ‘n geldige perspektief. Ons is nou al meer as ‘n
maand op die see en het nog net St Helena eiland gesien. Darem ook
al ‘n paar skepe. So waar is die land dan? Versink in die see.
Die perspektief is so goed soos kan kom.
Vandag, of liewer gister, se
opwinding moet die visse wees. Ek het ‘n kunsaas verloor met ‘n
vis wat gebyt het. Kort daarna vang ons toe ‘n Dorado op die
visstok. Ek het ‘n beurt gekry om die vis te bewerk en was nog
besig daarmee toe ons nog twee visse vang. Dié slag was dit baba
tunas, een met strepies en een geelvin tuna. Daar was ‘n hatch van
vlieënde vissies, en tussen die voëls en roofvis was daar ‘n
groot fees. Die dolfyne het selfs meegedoen.
Dit was my beurt om te kook en
ek het tamatiebredie met beesvleisblokkies gemaak. Ek het ‘n halwe
ui en ‘n kwart soetrissie gebruik uit kosbare voorraad wat kleiner
is as die dae wat oorbly. Die bredie het ek voorgesit met bruin rys.
Die het groot byval gevind. Renier het selfs ‘n bottel crème
soda gaskoeldrank oopgemaak. Ons het almal gesmul. Vir die kersmaal
is die Drikus se beurt. Ons gaan hoender kry in ‘n soet-en-suur
sous. Klink lekker. Hy en Renier het uitgeruil met die kosmaak wat
Renier reken hy kan nie goed genoeg kook om ‘n kersete uit te draai
nie. Ons sal die hoofete vir middagete hê, nie aandete soos
gewoonlik nie. Ek sien uit daarna.
Ek het vandag klaargemaak met
Slave Species of God. Dis ‘n baie interessante boek en mens kyk na
die bybel en ander ‘heilige’ geskifte uit ‘n heel ander
perspektief. Jou beskouing van vvv’s word ook beïnvloed. Die
volgende boek wat ek lees sal sommer net ‘n storieboek wees. Ek
sal ook so tentatief kyk na die seilvaart handboek wat Drikus vir my
gegee het. Dit dek die sillabus vir die Yachtmaster kwalifikasie.
Ek hoop van harte dat my
koplamp se batterye hou, anders gaan ek sukkel in die nag, so met my
flits in die een hand.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
Ooh, what's the pretty stripey fish? Is that the baby tuna?
ReplyDeleteIt is a Wahoo. Check at http://en.wikipedia.org/wiki/Wahoo for a proper description. This one went back into the water alive.
DeleteThe other one is a flying fish.
ReplyDelete