2011-12-26 21h00
En nou is dit ‘n dag later.
‘n Dag nader aan ons bestemming. Die afstand wat oorbly is nou
drie syfers, nie meer vier nie. En vandag was Maandag. Ons
vooruitskatting is nou om volgende Maandag in St Maarten te wees.
Die dag was redelik stil en
rustig. Ons is in ‘n seestroom wat ons meesleur teen so raps meer
as twee knope. Ons het ‘n lekker wind gehad heeldag lank en ons
effektiewe spoed was oor sewe knope.
Alles rustig tot vyf minute
gelede. Toe slaan ‘n squall ons en ek moes seil inrol vir die
vale. Die wind was sterk genoeg dat die boot, sonder enige seile,
gemaklik nege knope spoed gehou het. En ek sit hier in die salon in
‘n plas sweet van die inspanning. Ons motor nou tot die weer
bietjie bedaar het. Tussen die boot wat rondspring in die weer en my
uitasemgeit het my handskrif ook sommer verval na oer-hierogliewe.
‘n Mens kan agterkom aan die
geselskap aan boord dat almal nou uitsien daarna om weer land te
sien. Renier het kontak gemaak met ‘n vriend wat ook aflewerings
doen en dié het tekenne gegee dat daar aflewerings is na Australië.
Die vangslag is dat mens verkeerd-om na Australië seil. Deur die
Panama-kanaal, via die Galapagos-argipel en Tahiti. Die rede is
blykbaar, dat hierdie bote nie sterk genoeg is om die ‘roaring
forties’ deur te maak op die roete oor die Indiese Oseaan nie. Dit
beteken ‘n reis van vyf maande.
Daar was ‘n eenparige nee
van hierdie boot af.
Ons is almal vandag effens tam
na gister se verandering in die roetine met die Kersmaal op die
middagete instede van die gebruiklike aandete. Ons het die middag
baie rustig deurgebring en niemand was juis lus vir kos gisteraand
nie. Toe kom die squall ook nog, wat veral my energie getap het.
Vanaand gaan dit darem beter nadat ek deur die middag en na aandete
‘n uiltjie kon knip.
Maar ek dink die tamheid is
nie die rede vir die rigting van die gesprekke nie. Die verdere nuus
was dat daar eers weer in aanstaande Maart aanstaande jaar
aflewerings na Sentraal Amerika en die Karibiese Eilande sal wees.
Die ander twee manne dink om ‘n vakansie uit te pak. Ek beplan om
my kwalifikasies tot by Yachtmaster Ocean te voltooi. Ons almal kyk
ook diep in ons eie sake en wonder wat die toekoms verder inhou.
Vir my is dit ‘n nuwe
ervaring, want vir die eerste keer in my lewe is ek regtig vry om
besluite oor my lewe te kan maak. Tot onlangs toe het ek nog vir
Mammon gedien en was sy slaaf. Nou is dit anders en ek kyk met
totale nuwe oë na die lewe. Op die rype ouderdom van sewe en vyftig
jaar, nogal. Ek het al ‘n paar keer op hierdie reis so in die
stilligheid gewonder hoekom ek so lank geneem het om die besluit te
maak. Ek vermoed dis die juk van finansiële slawerny wat net te
groot en swaar is.
En mens het nie al die aardse
besittings, veral statussimbole, nodig om gelukkig te wees nie. Soos
dit nou met my gaan sal ek waarskynlik ophou belasting betaal omdat
ek gewoon te min verdien in rande. Ook omdat ek nie lank genoeg in
my land is om te kwalifiseer nie. Ek bid dat dit laasgenoemde is.
Maar dis steeds die toekoms. Ons bepaal nie volledig ons eie toekoms
nie.
Van aardse besittings en
statussimbole gepraat, myne is beide besig om te kwyn. ‘n Vriend
en kollega het onlangs opgemerk date ek selfs nie my eie boot sal
besit nie. Hy het gereken ek is bestem om ander mense se bote te
seil. Soos dit nou lyk is hy in die kol. Die man se geloof is
sterker as myne en ek het nogal op hom gesteun vir geestelike
ondersteuning in my laaste dae by Denel. My skeepsmaats reken ook
dat ek op die regte pad is met my tweede loopbaan en die pad wat ek
loop. Komende van hulle laat dit my goed voel, heel positief vir die
toekoms.
En ek loop een tree op ‘n
slag en vat elke dag soos hy kom. Daar is ‘n duidelike rigting vir
my vir die volgende twee maande. Ek loop hierdie pad tegemoet met
volle vertroue.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
No comments:
Post a Comment