2011-12-20 21h00
Vandag het ek nog ‘n mylpaal
behaal. Ek het my eerste Atlantiese kruising in ‘n seilboot
voltooi. Wel, soort van.
Ons is verby die wye deel van
die oseaan, en hoewel ons nog steeds in die Atlantiese oseaan is,
seil ons nou so honderd myl van die huis af al teen die kus op. Daar
is ‘n seestroom wat help en ‘n wind van so by die twintig tot vyf
en twintig knope. Die boot seil gerieflik teen knap oor sewe knope
met stote oor agt knope. Die wind is bestendig en die boot maak
gelukkige geluide. Dis ‘n lekker opwindende gevoel en is beter as
die stadige kus en wispelturige wind wat ons genoop om met groot
afstande te motorseil.
Ons het weer ‘n paar skepe
gesien vandag. Maar die mees opwindende deel was toe die dolfyne kom
kuier het. Ons was nog besig om kaart te speel, toe sien ons net hoe
spring die dolfyne skoon uit die water uit om ons te roep. Ek is
redelik oortuig hulle het ons geroep om te kom kuier, want toe ons
nou eers voor op die trampoline lê en oor die boeg loer baljaar
hulle toe éérs. Hulle swem so tussen die romp en dan draai hulle
op hulle sy om vir ons te loer. Dit op ‘n afstand van minder as
twee meter. As die boot ‘n bietjie laer was kon mens aan hulle
geraak het wanneer die deinings verbykom. Dit was ‘n opbouende en
blye ervaring. Jy voel sommer welkom.
Die weer is nou steeds lekker
warm en die wind bring lafenis. Ek kom agter dit word in die
algemeen warmer want my kajuit is beduidend warmer. Ek moet die luik
bedags oop hou, anders word dit ondraaglik warm.
Die sms boodskappe wat ek
vanoggend van Carol af gekry het, het my dag redelik opgekikker, al
is ‘n sms maar ‘n soort van ‘n afskeep kommunikasiemiddel. ‘n
Mens wil maar kontak hou met jou geliefdes, ten spyte van al die
opwinding van die reis. Ons het nog so effektief sestien dae of so
se seil oor. Die res is ons in hawens of marinas om die boot te
her-bevoorraad of af te gee. Dit lyk of ons beide Kersfees en
Nuwejaar ter see sal wees. Ons vooruitskatting is dat ons eers teen
1 Junie by Barbados sal wees.
Nou is dit naby aan die
Karibiese see. Daar waar die seerowers van ouds uitgehang het. Die
plek waar ons heen gaan, Tortola, was ‘n erge rowernes destyds.
Die Spaanse skepe, met hulle vragte skate bestem vir Spanje en
Europa, het daar by Antiqua bymekaar gekom voor hulle in konvooi
onder geleide van Spanje vertrek het. Ek dink dit is by Antiqua.
Dit kon ook een van die ander groot eilande soos Haiti gewees het.
Of is dit nou Hispaniola wat vandag Haiti en die Dominikaanse
Republiek huisves? Elk geval, dis ‘n baie beroemde en berugte deel
van die wêreld. Dis tegnies deel van die Atlantiese oseaan, maar
het sy eie naam. Die naam is afgelei van die word Karib, wat die
inboorlinge van die omgewing was.
Ons drie aan boord maak nogal
‘n gesellige driemanskap uit. Die spangees is uitmuntend en ons
meer vriende as kollegas. Renier reken dis waarskynlik die laaste
reis in ‘n lang tyd waar almal luister na Maria Callas en Laurika
Rauch. Hoewel dit nie ‘n eklektiese mengsel van musiek is nie, sal
die jonger geslag dit waarskynlik nie regtig waardeer nie.
Uit sy opmerking lei ek af dat
meesal mense na hulle eie musiek luister met oorfone. Vir my is dit
‘n manier om jouself te isoleer van die geselskap om jou, beskou
uit ‘n sosiale oogpunt. ‘n Mens isoleer jouself egter ook van
die naturlike gebiede om jou. Dis vir my ‘n bietjie onbegryplik
dat mens jouself isoleer van die natuur.
Veral hier op die boot waar jy
gekoester sit in die arms van Moeder Natuur en min of meer
blootgestel is aan al die elemente van haar gemoed. Die sosiale
omgewing moet voorwaar gespanne wees om so ‘n isolasie te
regverdig. Daar is derduisende mense wat groot geld betaal juis om
weg te kom van die kunsmatige omgewing waarin hulle in die stad lewe.
Ons het juis hieroor gesels vandag.
Die media is uit en uit daarop
gerig om ‘n spesifieke aspek van die werklikheid te skep om
sodoende ‘n produk of reeks produkte te kom verkoop. Dis al meer
en meer ‘n kuber-ruimte waarin ons leef. Dan gaan mense en neem
stukke daarvan saam op ‘n reis in die natuur in. Ek kan onthou hoe
ons verbied is om radios op Voortrekkerkampe te neem. In later jare
het ons vanself die radios en cd spelers afgeskakel wanneer ons by
ons jagbestemming inry. Nou lyk dit asof die kuber-omgewing besig is
om die natuur te verdryf uit die natuur uit, by wyse van spreke. Dis
half jammer want musiek is goed om na te luister na ‘n week of wat
van stilte. Ek is duidelik nog besig om af te wen.
Aan die ander kant is ek die
enigste een wat nie persoonlike musiek het om na te luister nie. Ek
het wel musiek op ‘n stokkie, maar kan die musiek net luister op ‘n
openbare vlak aan boord, synde ek nie oorfone of iets dergliks het
nie. Ek het na vele oorweging besluit dat dit nie noodwendig ‘n
nadeel is nie. Ek is intern gerig vir my geestelike ontspanning en
stimulasie, dus is die eksterne vorms van vermaak vir my van minder
belang. Dit is egter nie in die algemeen die geval nie en mens
respekteer ander se reg op sy eie vermaak.
Hierdie klink hengse
filosofies, maar dit is waarskynlik die dinkpatroon om te volg
wanneer mens konflikterende belange het in ‘n beperkte omgewing,
soos ‘n klein boot. Die boot is groot in fisiese afmetings, groot
genoeg om in redelike gerief die wye oseaan aan te durf.
Op ‘n
ander manier, of op ‘n geestelike en sielkundige vlak is die boot
baie klein en daar is relatief min privaatheid. Ons boot is groot
genoeg dat daar vier ‘en suite’ dubbelkajuite is. Elkeen aan
boord het sy eie kajuit, kompleet met ‘n badkamer. Dit vergroot
die sielkundige omgewing darem redelik, maar dis nie op al die bote
so nie. Miskien het mens dan tog wel oorproppe en jou eie musiek
nodig om ‘n privaat kokon van musiek te skep in jou eie slaapbank,
wat tipies gedeel word met iemand anders wat op diens is terwyl jy af
is.
Ek geniet nogal my nagskofte.
Dis my eie tyd waarin ek met myself kommunikeer, so op ‘n manier.
Die werk aan die boot bedryf en sorg dat alles redelik veilig daaraan
toe is hou mens nie regtig erg besig nie. Dus het ‘n mens genoeg
tyd om te mediteer. Vir my is dit die prys wat ek kry vir my
ondernemerskap om deel te wees van hierdie wereld. Jy sien meesal
die oseaan en ervaar hom in al sy fasette. Dan sien jy ander
werelddele, ontmoet ander mense en ervaar ‘n deel van hulle
kulture. Jy leer ook jou skeepsmaats baie goed ken.
In elk geval, as jy mooi oplet
en nie jou psige oorlaai met kunsmatige vermaak en afleiding nie, dan
leer jy jouself ken.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
No comments:
Post a Comment