2011-12-23 21h00
Vandag se mylpaal is
noodwendig die oorsteek van die ewenaar. Ons het Renier se
navigasie-lesse onderbreek om dit met ‘n bier te vier. Ons het
selfs ‘n foto geneem van die geselligheid.
Ek het begin agterkom van een
van die meganismes waarmee ‘n mens se dae op die reis begin deurmekaar
raak en jy tred verloor met die tyd en die almanak.
Dis nou al die derde skof wat
ek vandag werk en die tweede keer wat ek opstaan na ‘n slapie.
Hierdie slapie was nou net twee ure, maar jou kop wil al hê dit moet
die volgende dag wees. Daar is weliswaar ‘n les hierin: Moenie
slapies tel om die almanak af te merk nie, jy gaan jou tyd
vooruitloop. Of so iets.
So tussen die navigasie lesse
en ‘n bier later, verwerk ek my stel lesings van vanoggend en kry
‘n 9 myl fout of daar rond op die oornag vordering. Die stel
lesings vanmiddag, so vier en ‘n half ure later, is toe weer saam
met Renier geneem. Dis nou sodat hy vertroue kan opbou in sy lesings
en die verwerkings en plot van die resultate kan oefen. My stel
lesings werk toe op ‘n potloodstrepie se dikte presies uit. Soms
is die toeval vreemd, maar dit kom op ‘n geleë tyd! Drikus sal
more my berekeninge nagaan.
Vandag kon jy regtig voel ons
is in die trope. Buite waai die wind net koel genoeg om jou af te
koel. Hier binne en in my kajuit is dit snikheet en bedompig warm.
Mens sit amper in ‘n plas sweet hier in die salon. Selfs nou,
halftien in die aand, is dit nog warm hier binne, maar die plas sweet
is nie meer daar nie. Ons is nou al fluks aan’t vorder verby die
Amasone-delta. As ek die kaart reg lees is die delta in die orde van
‘n duisend kilometer wyd. Dis nie duidelik op die see-kaart nie
want die seekaart wys net die bevaarbare waters. En dis nogal groot,
‘n paar honderd seemyle stroomop. Maal met 1,852 om dit kilometer
te kry en jy kry die idee van die enormiteit van hierde grootste
rivier in die wereld.
Drikus het vandag die oond
ingewy deur ‘n pampoen (butternut) botterskorsie in stukke te sny
en dit te bak. Dit het ons saam met gebakte Dorado-filette geëet,
met kous-kous vir die stysel. Het het die kous-kous met skoon
seewater berei wat hy gekook het. Ons het besluit dit ‘n goeie
idee, hoewel ek later besluit het ek sal dit met die helte verdun.
As jy die water weer gaan weggooi, soos vir aartappels kook, dan
gebruik ‘n mens skoon seewater. Ek dit moet gekook word want daar
is lewende goed in seewater.
Dit was ook vandag wasdag.
Die koue stort is nou lekker lou en mens wil sommer lank onder die
water staan. Maar dis ook ons drinkwater, so jy werk maar spaarsaam
daarmee. Ek sal more weer wasgoed was, bedoelende my beddegoed. Ek
het nog ‘n skoon stel lakens en slope. Die wasgoed was ek sommer
in seewater, dit voel goed genoeg met die handwaspoeier. Renier
reken een van die dae kan ons twee keer per week in vars water stort,
ons het genoeg oor.
Dis nogal iets om na uit te
sien. Beide Drikus en Renier vertel van reise waar die disippline
nie so goed was nie en die skipper die water moes rantsoneer. Ek
hoop nie ek kom op so ‘n reis nie.
Verder sien ek uit om ‘n
barbier te spreek iewers waar ons aan land kom. My hare is nou myle
te lank vir die tropiese toestande waarin ons nou lewe, en my baard
laat my regtig oud lyk. Ek sal darem ‘n foto neem, dis nie meer ‘n
grizzly nie, maar nou grys. Ek sal soek vir skeergoed ook, daar
behoort ‘n winkel op St Maarten te wees wat sulke goed smous, dis
mos ‘n duty-free eiland.
Dit gaan snaaks voel om weer
ander mense te sien. Ons is nou al meer as ‘n maand op pad en het
laas op St Helena mense gesien. Teen die tyd wat ons by St Maarten
aankom sal ons ‘n volle vier weke uit St Helena wees. Dan is dit
Omie Vader Krismis Ziets tussen die vietse vakansieganger-lywe op
St Maarten. Dit kan net snaaks wees!
Daar is blykbaar gemaklike
internet-toegang, dan kan ek weer behoorlik kontak maat met die
huismense. Ons gaan so medium besig wees met die boot se uitrusting en skoonmaak maar sal darem vrye tyd ook hê. Ek het nodig om my sout-skurwe
voete in seesand te kry.
Ek is nou amper klaar met die
boek 'Slave species of God’. Die skrywer van die boek, Michael
Tellinger , het ‘n interessante interpretasie van die ou geskrifte
waaruit die Bybel ontstaan het, asook die interpretasie van die
Sumeriese klei-tablette uot Mesopotamië en omstreke.
Sy interpretasie bied ‘n
verklaring van die teenstrydighed en gapings in kontemporêre geloof
en interpretasie van die ou geskifte. Hy voer aan dat daar eksterne
wesens was wat die mense op aarde geskep het om hulle slawe te wees.
Dit klink ongelooflik, maar kan ‘n geldige punt wees. Daar is nie
regtig getuienis daarteen nie. Dit sal ‘n opskudding veroorsaak as
hierdie wesens uit die ruimte die aarde weer besoek en dié keer
alleenlik op die internasionale media rondpronk. ‘n Hele aantal
godsdienste sal daar en dan verval. Dit mag nogal chaos veroorsaak!
Hier buite suis en stamp dit
soos die boot voortbeur deur die water. Die see is nie meer so
stamperig soos vroeër vandag nie, maar ons skud nog steeds so ‘n
bietjie rond. En die see klop hard teen die onderkant van die dek
tussen die rompe. Dis nogal ‘n steurende geluid, maar mens raak
dit gewoond. Ek begin nou verstaan waar die argumente tussen
enkelrompe en dubbelromp bote vandaan kom. Ek sal bietjie ‘n reis
per enkelromp boot onderneem om genoeg ervaring te kry om self te kan
oordeel. Ten minste weet ek die koppie koffie bly staan op die tafel
sonder om die koffie uit te gooi op ‘n dubbelromp boot, self in vyf
meter golwe.
Jy kan dit nie doen op ‘n
kleinerige enkelromp boot nie. Ook nie sit en skryf by die tafel
soos ek nou doen nie. En wanneer jy begin posisies plot sal jy jou
speelgoed mooi onder beheer moet hê op ‘n enkelromp boot, anders
vlieg dit die hele salon vol. Iets om in gedagte te hou. Maar ek
sal steeds die sekstant saamneem, dit hou aan met werk.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
No comments:
Post a Comment