Dit was weer my kookbeurt gisteraand. Ek het alreeds vieruur begin kosmaak want ek het geweet dit gaan langer neem as normaal. Twee ure later is ek toe eers klaar en kan ons eet. Dit was beesvleisblokkies-kerrie in olielensies, bedien met rotis. Dis die rotis se voorbereiding wat so lank neem.
Beesvleis in olielensie-kerrie
Bestanddele:
1
koppie olielensies
¼
teelepel heel kojander
¼
teelepel heel komyn
4
kardamompeule, uitgedop
3
stukkies kaneelbas
4
korrels piment (allspice)
1
steranys
¼
teelepel anyssaad
½
teelepel borrie
1
eetlepel medium masala-poeier
1
teelepel knoffel, gekap
1
ui, gekap
1
eetlepel groen masala
500
gram beesvleisblokkies (goulash), in kleiner blokkies gesny
½
soetrissie, gekap
1
teelepel garum masala
sout
na smaak
Roti
300
ml bruismeel of gewone koekmeel
1
eier, as jy een het, ek het nie.
sout
na smaak
½
teelelpel heel komynsaad of anyssaad vir garnering
òf
brooddeeg
Metode:
Bak
die droë heel speserye in 'n droë pan tot die geure uitkom. Voeg
dan 'n skeut olie by, vergaar verder tot die olie mooi gegeur is.
Pasop vir aanbrand, dan is alles bitter en mens begin oor. Voeg die
vleis by en braai tot dit begin bruin word. Verwyder die vleis en
sous van die hitte en hou dit eenkant om te rus.
Voeg
weer 'n skeut olie by die pan, asook die gekapte ui, soetrissie,
groen masala en knoffel. Braai tot die uie deurskynened is . Voeg dan
die masalapoeier en borrie by. Braai verder tot die droë
poeierspeserye se geur uitkom.
Die
olielensies moet vooraf in so twee koppies kookwater geweek word om
uit te swel. Dit neem so 10-15 minute Voeg die geweekte olielensies
by die uie in die pot en prut die sous tot die lensies begin opbreek.
Voeg
dan die vleis weer by, kook deur en laat dit dan weer 'n paar minute
rus. Die olielensies, ook bekend as dal, sal water absorbeer tydens
die kookproses. Voeg water by soos nodig om die mengsel loperig te
hou, anders kan dit aanbrand. Verwyder die pot se deksel sodra die
lensie begin opbreek. Die sous sal dan indampp en verdik.
Jy
kan so teelepel garum masala byvoeg vir garnering knap voor
opdieneing. Dit sal die geur in die dis uitbring. Verder kan jy vars
koljanderblare opkap en en bietjie by elke porsie in die bord sit.
Moenie dit in die pot sit nie, koljanderblare het 'n sterk geur en
kan die dis oordonder. Jy kan ook 'n bietjie saffraan aan die begin
bysit. Week 'n paar stingels (2 of 3) in 'n halwe koppie kookwater.
Sout die dis na smaak.
Rotis
Meng
die meel en eier. Sout na smaak, so'n teelepelvol sal werk. Voeg
water by die deeg soos nodig om 'n lekker brooddeeg te maak wat jy
kan knie. Jy kan natuurlik liefs brooddeeg gebruik, maar op die boot
raak dit nogal 'n luukse. Garneer die deeg met die komynsaad.
Verdeel
die deeg in balletjies van so 30-40 mm nadat jy die deeg behoorlik
geknie het. Rol die balletjies deeg dun uit en bak die rotis in 'n
droë pan. Pasop vir aanbrand. Hierdie hoeveelheid is genoeg vir drie
mense.
Die
kerrie is genoeg vir 3-4 mense. As daar meer mense is, maak meer
rotis en rek die sous deur dit effens te verdun.
Ons
is nou naby die kus van Brasilië en so twee dae se seil vanaf Fortalesa, 'n groot hawestad. Ons is nou terug in redelike besige
skeepsverkeer en ons wagbeurte is nie meer so rustig nie. Ons het
vandag binne omtrent vier ure vier skepe gesien. Wanneer mens hulle
sien op die horison is hulle waarskynlik net so meer as 'n halfuur
weg van jou af, meesal minder. 'n Mens se horison aan
boord die seiljag is maar naby omdat jy so naby aan die water is.
Die
seevoeëls is weer terug., mens sien hulle nou gereeld. Die vlieënde
visse is bietjie minder en ons het weer 'n dag geseil sonder 'n byt
aan ons lyne. Dit sal nogal lekker wees om weer 'n vis te vang.
My
navigasie is nog heel op standaard. Dit lyk ook asof ek die sekstant
se gebruik onder die knie het. Die lesings kom nou met gemak en is
nie meer so wyd verspreid dat ek lesings moet weggooi nie. Miskien is
die oop weer en goed gedefinieërde horison deel van die rede. Ek was
vandag nie lus om die sekstant te ontmantel nie, so ek het maar
verlief geneem dat die indeksfout gaan kruip. My navigasie, na 'n
oornagbeen, met die geassosieërde skattings en growwe
onakkuraathede, is steeds binne tien seemyl korrek, vergeleke met die
boot se GPS.
Vandag
het ek vir die eerste keer na ST Helena-eiland my rekenaar uitgehaal
en gebruik. Ek het 'n navigasieprogram by Renier gekry, wat
oudergewoonte nie werk op Ubuntu/ linux nie. Daar is darem hoop, die
helpfile dui aan wat ek van die internet af moet kry en wat ek moet
doien om die program aan die werk te kry op Linux. Verder het ek 'n
paar rekenaar-speletjies gespeel. En die eindresultaat is dat 'n mens
breinmoeg is. Die tipe speletjie het natuurlik 'n groot invloed, maar
ek sal liewer ander tydverdrywe soek ter see.
Ek
het ook 'n klomp boeke vir die Kindle gekry. Dis nou vir 'n
toekomstige tydverdryf. Sal maar sien of hulle goedkoop is op St
Maarten, anders sal ek ene oor die internet aanskaf wanneer ek weer
tuis is.
Ek
sit nogal en wonder waar die lewe my heen gaan neem in die toekoms.
Daar is nou 'n hele nuwe wereld wat oopgaan hier om my. En dis
beduidend minder vreesaanjaend as die bedryf waaruit ek kom. Die
bedryf waaruit ek kom is aan't sterwe en is besig om te kwyn, met die
geassosieerde geskarrel na die oorblywende krummels van die krimpende
begroting. Die bedryf waarin ek my begewe is aan die groei en dit lyk
asof ek reg gerig is om 'n goeie tweede loopbaan te kan opbou in die
seilvaartomgewing. Ek hoop dat Carol sal meedoen en ondersteun.. Sy
gaan ook 'n besluit moet neem oor 'n tweede loopbaan, daar is nie tyd
en vermoë vir aftree en
niksdoen by die huis nie. Ek is nie seker of sy dit al ernstig
oorweeg en oordink nie.
Verder
begin die reis nou amper einde se kant toe staan. Daar is nog so knap
meer as twee weke oor, dan is ons daar. Daar is natuurlik ook die
stop by St Maarten, waar ons toerusting vir die boot sal oplaai.
Klink my ons gaan teendaardie tyd ook nie meer aan boord kook nie,
synde ons dan telkens aan wal kan eet en drink. En elke dag bad of
stort. Dit gaan 'n belewenis wees!
Ons
sal dan die boot skoonmaak en voorberei vir finale oorgee en
aflewering. Na die reis van ses weke gaan dit aardig voel om weer
permanent op vaste aarde te wee en die kamer staan stil. Ek mis
natuurlik die katte ook, al hou hulle 'n mens uit die slaap. Veral so
in die na-nag. En natuurlik mis ek my vrou. Dit gaan lekker wees om
weer iets saam te doen. Die stap op die strand, die uiteet en so
aan.
Ek
reken ek sal minder Sodoku speel en meer lees. Die lees het my jare
se goed gedoen hier aan boord. Dis 'n rustige soort tydverdryf en
iets om jouself in te verloor. Daar is 'n persoonlike caveat vir my:
ek moet miskien wegbly van vakliteratuur af, dis studie. Prediker
12 vers 12 lees: "En buitendien, my seun, wees gewaarsku;
aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing
van die vlees." Verder, die boodskap
uit “Houseboat Chronicles” van Jake McDonald, is dat mens moet
aanbeweeg. Die lewe gaan aan en dis nooit 'n goeie ding om aan die
verlede vas te klou nie. Jy kan nie 'n toekoms bou op herinneringe
nie, dis bietjie soos die Bybel se gelykenis van 'n huis op sand bou.
Die see en water spoel die sand weg oor tyd, dan stort die huis in
duie. Op dieselfde manier spoel die tyd en die lewe herinneringe uit
jou gedagtes en die herinneringe vervaag. Dan stort jou lewe in duie
as jy dit gebou het op herinneringe. Drome is anders. Dis goed wat
beelde is in jou kop. Beelde in jou kop kan mens iets mee maak. Dis
goed wat nog nie bestaan nie, maar wat more of oormore kan bestaan.
Daar
is 'n element van beplanning en skepping in drome. Nie almal is
nagmerries nie. En die nagmerries en spoke in my kop is grootliks
besweer na hierdie reis. En ek kan bou aan my drome omdat die spoke
stil is. Dan is daar tyd in mens se gemoed vir sulke gedagtes. Die
Bybel vereis gereelde stiltetyd, 'n tyd van oorpeinsing,en gesels met
jou God. So ook ander godsdienste. Die meer oosterse vorme van
gosdiens gebruik meditasie. “Transcendental meditation” is die
term. Dit transendeer mens se aardse woelinge en veroorsaak dat jou
ego stil word, so dit transendeer jou ego as 'n begin. Daardie
stemmetjie in jou agterkop wat jou slegte moed inpraat. Hoe dit ook
al sy, dis 'n manier om stilte in jou kop te kry sodat jy kan tyd hê
om jou hede te geniet en jou toekoms te kan beplan. Wel, dis hoe ek
daaroor voel. En dit werk vir my.
Die
meditasie is goed om jou gemoed tot rus te kry, selfs sielkundiges
leer jou tegnieke om te ontspan. Elk geval, dit voel reeds goed vir
my dat ek aanbeweeg uit my ou lewe na 'n nuwe een. Die ontdekkingstog
is opwindend en laat mens sommer opgewek voel.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2013-01-23
No comments:
Post a Comment