2011-12-07 12h20
Ek het gisternag my eerste vlieënde
vis gesien. Dis nou nadat hy my op die brug teen die been geklap het.
Ek het my half simpel geskrik.Soveel so dat ek hom summier van die
dek af geskop het en skoon vergeet het om 'n foto te neem.van die ou
vissie van so 15 tot 20 cm.
Mens
skrik jouself bedinges wanneer daar so gevaarte hier uit die donkerte
jou klap. Waarskynlik is die slagoffer se reaksie skreeusnaaks, maar
op daardie oomblik is dit 'n uitmergelende ervaring.
Ek
het nogal baie studeeer in die sterrenavigasie en het begin
agterkom waar lê
my foute. Dis beide in my lesings en in die lees van die tabelle. Dit
moet omsigtig gedoen word en nie met haas nie. En daar is 'n paar
lesse
- Bevestig die kalibrasie van die sekstant telkens voor elke lesing.
- Gebruik groot hoeke om 'n plot te doen. Klein hoekies veroorsaak groot foute in posisie.
- Maak seker dat jy die korrekte tabelle tabelle in die almanak en reduksietafels gebruik.
- Maak seker jou berekeninge is in die regte rigting. Let op die teken en in watter halfrond jy werk.
- Gebruik lang basislyne vir dead reckoning, anders kry jy klein hoeke.
Ek
begin verstaan watter korreksies waar gebruik word. Die oorwegende
faktor is om presies te werk met opsoektabelle en berekeninge. Die
proses oorheers alles; wanneer dit gesnap word is navigasie
kinderspeletjies van daar af.
Dit
was vandag 'n baie “stadige” dag. Byna geen wind nie, gedeeltelik
bewolk, plat see, geen voëls
of visse nie. Renier het darem dolfyne gesien op sy skof, die res van
ons niks. Dit was nog koel en 'nmens trek nog warm goed aan vroeg in
die oggend. Dis tyd dat dit bietjie warmer word, dan kan ek my
bedlinne, truie en langmou T-hemp was. Hulle is teeen hierdie tyd
bietjie hengse vuil.
Tussen
die seelug, wat tans droog is, en die soutwater waarmee ons die dek
afwas raak mens se vel nogal baie droog en skurf. Ek is bly ek het 'n
familiegrootte bottel lyfroom saamgebring. Dit kom heel handig te
pas..
Ek
het nou gaan sekstantlesings neem van die maan en Venus. Dis nogal 'n
uitdaging om die sekstant te gebruik in die helder maanlig. Die maan
verblind jou en al die sterre is dan maar dof. Ek sal sterrelesings
neem wanneer die maan bietjie weg is. Nou is dit kompleet soos 'n
verligte straat in 'n gegoede woonbuurt; alles is gebaai in so silwer
lig.
En
so motor ons voort. Soos 'n stadige kar deur die Karoo. En al die dae
is dieselfde en al die nagte is dieselfde. More gaan ons roes afhaal.
Dit klink my dis so uur of wat se werk. Dan behoort die boot weer
spiekeries te lyk. Daar is nou beduidend minder dieselkanne op die
agterdek. Ons het hulle leeggemaak in die brandstoftenks en die leë
kanne vir die watertaxi-drywer op stHelena gegee. Ek reken die
laastes sal weg wees met die volgende aanvulling van die
brandstoftenks.
Terug
by die skoonmakery. Daar is tandeborsels aangekoop op St Helena. Dis
nou vir die klein hoekies en gaatjies se roes. Klink bietjie soos
diensplig, net anders. Ou toppie Ziets wat met 'n tandeborsel die
boot se staalwerk bykom! Nogal 'n treffende beeld, so in 'n mens se
gedagtes.
Ons
het vandag ons horlosies 'n uur teruggestel, want ons is nou in die
volgende tydsone wes van Greenwich. Ons seil so teen 140 seemyle per
dag. Dis die ekwivalent van so bietjie meer as 2º
op die ewenaar. Ons is op 15º
suid, so ons kruis meer grade as dit. Maar ons seil nie reg wes nie,
meer wes-noordwes. Dit gee so 2º/dag
inkrement, wat rofweg vertaal na sewe dae vir 15º
lengtegraad op die ewenaar. Dit beteken een uur tydsone-verskil elke
week wat ons seil.
Ons
verloor nou tyd, maar maak dit weer op wanneer ons vlieg. Dan skop
die “jet lag” in. Mens wonder of die opgepotte rus kan help met
die “jet lag.” Ek kan gelukkig heeldag slaap om te herstel
daarvan.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
No comments:
Post a Comment