2011-12-13 19h40
Vandag was weer 'n redelike
luilekker dag. Die wind het in die middel van die oggend opgekom,
iewers amper 20 knope gewaai met 'n ligte squall, toe weer afgeneem
na so 12 knope. Ons seil steeds lekker. Dis nog steeds warm en ek dra
nog steeds net 'n broek.
Ons het baie geoefen met die
sekstant. Dit het baie duidelik uitgekom dat die instrument nie sy
indeks behou nie. Die indeksfout moet telkens bevestig word voor 'n
mens lesings neem. My vermoë
is besig om mooi op dreef te kom. My sekstantlesings en berekeninge
verskil van die boot se GPS met minder as 10 seemyle. Daarbenewens
begin ek my instrument te verstaan. Dit gee vir my die vermoë
om myself ter see te plot met behoorlike akkuraatheid en sonder die
gebruik van elektronika. Ek is onafhanklik van die elektronika vir
oop oseaan navigasie. Ek voel baie trots daarop.
Kusnavigasie is egter 'n ander tipe probleem. As die weer sleg is en die sig swak, gaan jy nêrens heen
sonder 'n GPS nie. Veral nie in 'n koraalsee in die nag nie. Ek gaan
maar weer 'n hand-GPS moet aanskaf, asook 'n handkompas. Selfs Renier
reken dis volgende op sy lys. Hy het ook 'n GPS wat aan sy rekenaar
koppel.
Ek sal maar nog spaar en 'n
paar geldjies verdien.
Die maan kom vanaand later op,
so dis pikdonker buite. Soort van. Die sterlig is so helder dat Venus
'n ligbaan op die water maak. Dis baie romanties. Ek het dit nog
nooit so ervaar nie, want ek was nog altyd op die land, met stof en
besoedeling in die lug, al is 'n mens ver van die stad af. En op
plekke soos op die Drakensberge is daar nie genoeg oop water om
hierdie te sien nie. Dis idillies en iets om jouself mee skoon te was
in jou siel. Iets in jou ervaring wat jy selfsugtig kan koester en
wat niemand van jou kan wegneem nie.
Dit is regtig iets om met
geliefdes te deel. En dis nie regtig kunsmatige ervaring nie, behalwe
vir die moderne boot en die gepaardgaande tegnologie wat die
ontbering effe vergemaklik. Maar ek wens regtig ek het Carol nou hier
by my gehad. Sy sal dit sekerlik geniet.
Ons is nou amper oor die breë
deel van die Atlantiese Oseaan. Nog so 'n week, dan is ons naby die
Brasiliaanse kus. 'n Eerste kruising van 'n groot oseaan agter die
blad. Nogal, en so op my oudag! Wel, daar is nog baie lewe in hierdie
ou lyf.
Ons sal teen die Brasiliaanse
kus opvaar tot verby die Amasone se mond, dan begin noord draai om by
Barbados te kom. Soos die Here se wil en die weer ons vat gaan ons
nuwejaar in Barbados wees, en 'n dag of wat daar oorstaan, anders
gaan ons reguit St Maarten toe.
Ons is baie naby aan halfpad
met die afstand van die reis ook. Dit voel na 'n lekker mylpaal. Een
van die dae is daar natuurlik ook die ewenaar om te kruis, nog 'n
mylpaal in 'n mens se ervaring. Dis anders as om dit te doen in 'n
vliegtuig, wat ek al 'n paar keer gedoen het. 'n Vliegtuig is
onpersoonlik, maar hier op die boot is dit in jou gesig. Dis deel van
die daaglikse roetine se doel en gee vir jou iets om na uit te sien.
Dis die afwagting wat tel, dieselfde as met seks. Daar is niks lekker
daarin om dit af te rammel nie.
Deel daarvan is die stel van
'n doelwit. Dan kom die beplanning. Daarna kom die uitvoering en die
genot van die reis. Die genot van die reis oorheers alles. Dis hoekom
'n lugreis so onpersoonlik is. En dis hoekom jagekspedisies en
staptoere so gewild is. En, vir dieselfde rede, hoekom 'n lang vyery
en voorspel sulke hedonistiese genot bied tydens seks, instede van 'n
vinnige tjoef-tjaf, broek af, wham-bam, thank you ma'm, waar dit oor
is voor mens kan opgewerk raak.
Maar hierdie is 'n bootreis
met 'n seilboot. 'n reis deur die donkerte van mens se vrese na 'n
plek van rus en vrede en 'n sensuele genieting van die ervaring van
hierdie reis. En ook 'n fisiese reis na 'n nuwe plek om te ontdek.
En, as die ervaring van St Helena 'n aanduiding is, 'n ervaring van
die lewenstyl van die nuwe plekke. Op eenvoudige maniere, onopgesmuk
en meer menslik as op 'n lughawe en die verwante ervaring daar
rondom.
As jy per boot arriveer is jy
outomaties deel van die gemeenskap in die hawe. As jy per motor
aankom is jy 'n besoeker.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
No comments:
Post a Comment