Thursday, 19 January 2012

Lewenstyl-dinge en nog navigasie

2011-12-13 19h40

Vandag was weer 'n redelike luilekker dag. Die wind het in die middel van die oggend opgekom, iewers amper 20 knope gewaai met 'n ligte squall, toe weer afgeneem na so 12 knope. Ons seil steeds lekker. Dis nog steeds warm en ek dra nog steeds net 'n broek.

Ons het baie geoefen met die sekstant. Dit het baie duidelik uitgekom dat die instrument nie sy indeks behou nie. Die indeksfout moet telkens bevestig word voor 'n mens lesings neem. My vermoë is besig om mooi op dreef te kom. My sekstantlesings en berekeninge verskil van die boot se GPS met minder as 10 seemyle. Daarbenewens begin ek my instrument te verstaan. Dit gee vir my die vermoë om myself ter see te plot met behoorlike akkuraatheid en sonder die gebruik van elektronika. Ek is onafhanklik van die elektronika vir oop oseaan navigasie. Ek voel baie trots daarop.

Kusnavigasie is egter 'n ander tipe probleem. As die weer sleg is en die sig swak, gaan jy nêrens heen sonder 'n GPS nie. Veral nie in 'n koraalsee in die nag nie. Ek gaan maar weer 'n hand-GPS moet aanskaf, asook 'n handkompas. Selfs Renier reken dis volgende op sy lys. Hy het ook 'n GPS wat aan sy rekenaar koppel.
Ek sal maar nog spaar en 'n paar geldjies verdien.

Die maan kom vanaand later op, so dis pikdonker buite. Soort van. Die sterlig is so helder dat Venus 'n ligbaan op die water maak. Dis baie romanties. Ek het dit nog nooit so ervaar nie, want ek was nog altyd op die land, met stof en besoedeling in die lug, al is 'n mens ver van die stad af. En op plekke soos op die Drakensberge is daar nie genoeg oop water om hierdie te sien nie. Dis idillies en iets om jouself mee skoon te was in jou siel. Iets in jou ervaring wat jy selfsugtig kan koester en wat niemand van jou kan wegneem nie. 

Dit is regtig iets om met geliefdes te deel. En dis nie regtig kunsmatige ervaring nie, behalwe vir die moderne boot en die gepaardgaande tegnologie wat die ontbering effe vergemaklik. Maar ek wens regtig ek het Carol nou hier by my gehad. Sy sal dit sekerlik geniet.


Ons is nou amper oor die breë deel van die Atlantiese Oseaan. Nog so 'n week, dan is ons naby die Brasiliaanse kus. 'n Eerste kruising van 'n groot oseaan agter die blad. Nogal, en so op my oudag! Wel, daar is nog baie lewe in hierdie ou lyf.

Ons sal teen die Brasiliaanse kus opvaar tot verby die Amasone se mond, dan begin noord draai om by Barbados te kom. Soos die Here se wil en die weer ons vat gaan ons nuwejaar in Barbados wees, en 'n dag of wat daar oorstaan, anders gaan ons reguit St Maarten toe.

Ons is baie naby aan halfpad met die afstand van die reis ook. Dit voel na 'n lekker mylpaal. Een van die dae is daar natuurlik ook die ewenaar om te kruis, nog 'n mylpaal in 'n mens se ervaring. Dis anders as om dit te doen in 'n vliegtuig, wat ek al 'n paar keer gedoen het. 'n Vliegtuig is onpersoonlik, maar hier op die boot is dit in jou gesig. Dis deel van die daaglikse roetine se doel en gee vir jou iets om na uit te sien. Dis die afwagting wat tel, dieselfde as met seks. Daar is niks lekker daarin om dit af te rammel nie.

Deel daarvan is die stel van 'n doelwit. Dan kom die beplanning. Daarna kom die uitvoering en die genot van die reis. Die genot van die reis oorheers alles. Dis hoekom 'n lugreis so onpersoonlik is. En dis hoekom jagekspedisies en staptoere so gewild is. En, vir dieselfde rede, hoekom 'n lang vyery en voorspel sulke hedonistiese genot bied tydens seks, instede van 'n vinnige tjoef-tjaf, broek af, wham-bam, thank you ma'm, waar dit oor is voor mens kan opgewerk raak.

Maar hierdie is 'n bootreis met 'n seilboot. 'n reis deur die donkerte van mens se vrese na 'n plek van rus en vrede en 'n sensuele genieting van die ervaring van hierdie reis. En ook 'n fisiese reis na 'n nuwe plek om te ontdek. En, as die ervaring van St Helena 'n aanduiding is, 'n ervaring van die lewenstyl van die nuwe plekke. Op eenvoudige maniere, onopgesmuk en meer menslik as op 'n lughawe en die verwante ervaring daar rondom.

As jy per boot arriveer is jy outomaties deel van die gemeenskap in die hawe. As jy per motor aankom is jy 'n besoeker.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment