1
Desember 2011
Ek
het vandag met Carol kontak gemaak per satellietfoon. Dit was aaklig.
Twee minute is gou verby. Die kommunikasie was swak, beide vir die
mense en ook die elektroniese kanaal. Die kanaal was hakkerig en en
stemme onderbroke. En die gesprek was in kort woorde.
Kort
woorde dra nie juis veel inligting oor nie, dus wag ek maar vir die
WiFi fasiliteit op St Helena. Hierdie poging was teleurstellend en ek
sal nie weer dit probeer nie. Ek kon darem die boodskap deurkrydat
Carol my kan sms op die boot via die internet.
Driekus
het vandag weer kos gemaak. Hy het vis gebraai, in meel gerol en
diepolie. Die vis is toe bedek met 'n glasuursous van kerriepoeier,
gebraaide uie en suikerwater wat hy gekook het tot dit dik word. Dit
smaak uitmuntend en is 'n variasie op die roerbraai vark en hoender
wat ek tuis berei. Die vis was bedien met aartappelslaai. Lekker!
Ons
het vandag ons eerste “squalls” gekry. Dis los reënbuie wat met
'n sterk wind geaard gaan. Behalwe dat die windvlae nie juis sterk
was vandag nie. Ek het genoeg son gesien om weer twee lesings met die
sekstant te neem.
Voorts
het ek my van my bestaande lesings verder verwerk en geplot. Die
resultate wissel van hengse akkuraat tot middelmatig. En ek het nog
baie oefening nodig om akkurate sekstantlesings te neem.
Vandag
het ek my broek nog so 'n versie stywer vasgemaak. Ek verloor hengse
baie gewig. Of so voel dit altans. Ons eet net een behoorlike ete per
dag en die res van die tyd is dit elkeen vir homself. Ek het
gisteroggend die reste van die vorige aandete vir ontbyt genuttig.
Middagete is 'n grondboontjiebotter toebroodjie of 'n appelkooskonfyt
en kaastoebroodjie. Ek het myle te veel versnaperinge en soetgoed
saamgebring. Tot dusveer het ek nog net omtrent vyf pakkies goed
opgeëet en van dit het my maag ontstel. Mens moet maar versigtig vir
droeë vrugte en so aan.
Ons
het vandag ons horlosies nog 'n uur teruggestel om aan te pas by die
tydsone. Anders kry jy dat dit al agtuur is voor die son opkom. Of
anders ruil jy wagbeurte om 06h00 in die pikdonkerte. Dis baie
subtiel, maar mens kom die verskil agter. Dit gebeur stadig, dus is
jou liggaamsklok in staat om by te hou. Maar ek dink dit gaan woes
wees om terug te vlieg met die jet lag en al.
My
handskrif is nie juis iets om oor te spog nie, maar mens moet in ag
neem dat ek sit op en skryf op 'n boot wat nogal heelwat beweeg, as
jy dit nie bokspring wil noem nie. Ek vermoed die beweging is deel van
die rede vir die gewigsverlies. Dit bly egter terapeuties om te sit
en skryf. So in die ritme van die golwe en deinings, met die geruis
van die water om die boot.
'n
Terugkeer na tradisionele kunste en vaardighede. Straks
Victoriaans as jy wil. Volgende keer sal ek oorweeg om 'n vulpen te
bring, maar dan moet ek die bagasie se gewig in ag neem en die bottel
ink weggooi aan die bestemming se kant, aleer ek op die vliegtuig
klim.
Ons is nou al elf dae op reis en het nog nie een volledige
sonnige dag gesien nie. Die weer is besig om beduidend warmer te
word, maar ek dra nog steeds 'n kortmou én 'n langmou T-hemp op die
brug. In die nag kom my reënbaadjie by. Die ander manne dra al 'n
kortbroek, maar ook maar 'n ding wat warm is en die wind afkeer.
Hopelik sal die weer nog warmer word binnekort. Die weer is in elk
geval meer gematigd as in Kaapstad. Dis iets om oor bly te wees. Ons
het groot golwe gehad vir die eerste vyf dae van ons reis. Dit was
nie aangenaam nie. Veral nie nadat die avontuur van die nuwe ervaring
bietjie afgewerk geraak het nie. Dis maar 'n leerskool waardeur 'n
mens gaan.
Ek
het vir die eerste keer fosforligte in die water gesien. Dis asof
iets die reaksie aan die gang sit, dan flits daar so klomp ligte
langs die boot. Ek kon nie uitmaak of dit visse of 'n mikro-organisme
in die water is nie. Dis nogal mooi, herinner so bietjie aan 'n klomp
kameraflitse by 'n glansgeleentheid, met myself op die verhoog.
No comments:
Post a Comment