2011-12-17 21h00
Ons is nou behoorlik in die
trope en sal waarskynlik binne een week die ewenaar kruis. Ons is so
twee dae se seil van die naaste land af, drie dae van Fortalesa in
Brasilië af en daar is
nog so twee weke en 'n paar dae se seil oor op die totale reis. Ons begin
reeds die effek van die seestroom langs die Brasiliaanse kus te sien.
Dit gee ons tans so halwe knoop ekstra spoed.
My navigasie is nou op
standaard. Die fout op 'n oornag seil, lesings en berekeninge is
steeds in die orde van 10 myl maksimum. Die sekstant se vermoë
bly 'n probleem. Ek sal in die daglig die instrument se spieël
uithaal en die montering versien.
Die
weer bly maar effens wispelturig. Die wind is maar swak en
wisselvallig in die dag, dan weer effens sterker in die nag. Renier
verwag wind van so 25-30 knope langs die kus, maar daarvan is daar
nog geen teken nie.
Ons
het een byt gehad vandag. Ons sleep die kunsaas elke dag. Tot dusver
het ons drie byte gehad in die laaste week, maar almal het losgekom.
Ek het die minste byte sover. Ek het al die kunsaas geruil, maar
sonder sukses. More is dit tyd vir 'n ander een.
Dit
was Drikus se beurt om te kook. Hy het weer sy “sticky sweet
fish”-dis gemaak, bedien saam met kapokaartappels. Dis 'n hengse
lekker dis en ek sal dit tuis ook maak. Maar vir nou, hier aan boord,
is dit Drikus se eie dis.
Ek
lyk nie meer soos 'n bleeksiel nie, synde ek nou kleur op my lyf het.
Maar ek sal 'n plan moet maak met 'n gordel; Ek het genoeg gewig
verloor dat my swembroeke begin afval. En nie een het eers 'n lang
veter om as 'n gordel te kan gebruik nie. Hoe mis ek nou my staptoer-
en jag-dae. Toe het altyd 'n ekstra stel stewel-veters byderhand vir
sulke gebeurlikhede. Ek sal maar weer so iets aanskaf. Mens gaan dit
telkens gebruik na 'n paar dae aan boord, so wanneer jy die vetrolle
begin afskud.
Die
sosiale lewe aan boord is steeds heel gesellig. Ons het nou 'n
standaard kaartspel-kompetisie in die middag so net na 12h00. Die
kwinkslae is skreeusnaaks!
So
tussendeur worstel ek met die boek “The Source” van James
Michener. Ek gebruik die woord “worstel” omdat die storielyn
ietwat uitgerek is. Die boek gaan oor die geskiedenis van die Jode en
die kookpot van hulle land se ontstaan, beginnende omtrent 15000 jaar
gelede, selfs vroeër. Elke era het sy eie stuk storie endis waar
die skrywer miskien die spoor byster raak. Hier in die middeleeue en
die kruistogte raak dinge bietjie dik vir 'n daalder met die
beskrywings, grafies nogal, van die vervolging van die Jode. Telkens
word daar derduisende mense afgemaai, gesinne word verbreek, moord en
doodslag. Daarna word die agtergeblewenes, of die oorlewendes, ver
oor die wereld heen versprei. Mens kan agterkom dat selfs my
opsomming uitgerek begin word!
Ek
wonder of Carol weg is vir die langnaweek, miskien om by haar Sus
Rosa en Dolf te kan kuier. Sy het nog nie hierdie week weer 'n SMS
gestuur nie., hoewel dit vir haar verniet is. Ek het nie 'n manier om
te weet hoe sake verloop tuis nie, so 'n mens haal maar diep asem en
gaan aan. Ek hoop egter dat sy sal verstaan dat sy meer gereeld iets
kan aanstuur, al kry sy net een per week terug. Ek hoop van harte sy
doen iets uit haar gewone roetine oor die langnaweek, dis mos
vryetydsbesteding by uitnemendheid. Aan die ander kant mag die
logistiek wat saam met die katte se versorging gaan haar idess
varander. Dis in elk geval haar keuse van tydverdryf en lewenstyl.
My
rekenaar het skaars gewerk tot op St Helena. Ek sal bietjie liedjies
rondskuif op die stokkie en kyk of ek 'n paar kan omskakel na
mp3-formaat. Ons kry die idee dat die klankspeler aan boord nie al
die musiekformate verstaan nie. Ek sal ook 'n paar rekenaarprogramme
kopieer vanaf Drikus en Renier se rekenaars.
Dis
navigasie en reisbeplanning-programme. As jy 'n GPS-ontvanger aan die
rekenaar koppel het jy dan 'n volledige navigasie-hulpmiddel teen 'n
redelike prys. Ek gaan 'n plan moet maak met die verkryging van
paierkaarte, die goed is vrek duur.
Genoeg
van dinge, ek begin nou verlang na my vriende ook. Om met hulle te
gesels en bietjie nuus uit te ruil. En ook om my ervaring te deel.
Dis
nogal 'n ding, hierdie ervaring. Jy gaan op reis om nuwe plekke te
ontdek en te ervaar en om nuwe dinge te sien en ander kulture te
ervaar. En op die ou end is die ontdekking iets van binne in jouself.
'n Ontdekking en ervaring van dele van jou eie ek wat jy waarskynlik
nie van geweet het nie, maar wat jy nou gebruik tydens die reis, nie
by die vertrekpunt of die bestemming nie. Jou verwysingsraamwerk en
jou waardestelsel verander tydens die reis. So, die reis is meer
sielkundig as fisies. Die fisiese deel kan met baie minder fisiese
moeite en beslis minder sielewroeging gedoen word deur bloot per
vliegtuig te reis. Maar die bootreis maak dit 'n dieper ervaring met
meer fasette.
Hierdie
joernaal is een van die uitings van die sielkundige reis, skat ek. Ek
is bly ek het my ervaring begin opskryf, al voel dit net so effens.
Dis deel van die ontdekkingsreis en 'n mens kan godsonmoontlik alles
onthou om dit dan later te boekstaaf.
En
jy wil spesifiek nie alles probeer onthou nie, dis een van die eerste
sondes wat stres tot gevolg het. Oorlading van jou geheue. Jou
korttermyn geheue is die eerste wat in die hek duik. Hierdie reis is
ook bedoel om te ontspan, nie net werk nie. Al is ek 'n glorified
afleweringsjonge, soos wat die fraaie juffrou Cronje destyds gesê
het toe ons by die Amerikaanse konsulaat gesit en wag het vir ons
visums. Dit voel soos baie lank gelede wat daardie gesprek
plaasgevind het, nogal.
Ek
staan verstom oor my eie denke tans. Daar was nog geen nostalgie of
hartseer op hierdie sielkundige reis van my nie. Daar is wel
herinneringe van werner en sy oorlye, en die mense wat my gedra het.
Ek skat dis nog deel van die rouproses. Daar het ek mildelike kans
voor gehad tot nou toe op hierdie reis, veral in die nagte wanneer
dit bewolk en baie donker is, met niks om jou gedagtes te versteur
nie. Ek kan voel dat die emosies van Werner se oorlye beduidend
minder is . Daar is groot berusting en baie mooi herinneringe wat
oorbly.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
No comments:
Post a Comment