30
November 2011 02h10
Die
wind het opgekomm en waai nou so teen 13-16 knope. Ons seil lekker
met die wind so oor die bakboord-agterstewe.
Ek
het gister verder gestoei met die sterrernavigasie, Vandag en gister
is terme wat neig om inmekaar te vloei. Ek verloor sommer maklik die
datum. Al wat my herinner is hierdie joernaal en die
navigasie-oefening. Ek weet hoe laat dit is, want my lewe word
oorheers deur die diensrooster; 3 ure aan, 6 ure af. Die 15h00-18h00
skof maak ete vir almal, die volgende dag se 06h00-09h00 skof was
skottelgoed en ruim op.
Ek
het gister vir die eerste keer sedert ons vertrek uit die Kaap.
Behoorlik gewas. Dit was 'n koue stort, die boot het nie warm water
nie. Daar is nie 'n warmwater stelsel aan boord nie. Ook weer skoon
onderklere aangetrek en die vuiles gewas.
Dit
voel nie snaaks om nie te was nie.Mens is nie regtig vuil nie, maar
begin erg ruik van die ou sweet. Gelukkig was dit maar koud en koel
tot nou toe.
Ek
voel geetelik heel uitgerus. En vrolik. Daar is nie snaakse
verhoudingsprobleme of idiosinkrasieƫ
aan boord nie. Die gebrek aan media is waarskynlik 'n seƫn.
Dit maak dat mens jou medemens se geselskap waardeer. Die gebrek aan
eksterne media maak dat jy meer fokus op jou eie vermaak en
afleiding. Die roetine aan boord gee ook meer as genoeg eie tyd.
Veral in die nag, soos nou.
Ek
lees ook baie. Ewald en Nicola het 'n boek persent gegee: Atlantic,
deur Simon Winchester. Dis 'n effe geromantiseerde geskiedenis van
die Atlantiese oseaan, nogal moeilik om te lees, maar baie
interessant. Noudat ek dit klaar gelees het, lees ek sommer gewone
storieboeke, die eerste keer in 'n lang tyd. Nogal lekker vir 'n
verandering. Ek begin dit selfs oorweeg om 'n elektroniese leesboek
soos 'n Amazon Kindle aan te skaf. Dan verdwyn die klomp storieboeke
uit mens se boekrak. Die klomp boeke wat ek aan boord gebring het
gaan ek in elk geval weggooi in Tortola. Hulle neem plek en gewig op
in my bagasie vir die terugreis.
Interessant
hoe mens se verwysingsraamwerk verander. Die ander manne het
persoonlike iPads en so aan en massas musiek waarna hulle luister met
oorproppe. Ek sit en verlustig my in die kokon van van stilte hier om
my. Daar is ander geluide hier naby, maar die kokon is van stilte.
Die
water ruis en borrel by die boot verby. Soms klap die water teen die
romp, soms klap dit hard tussen die rompe. Dis die boot se eie
geluide. Die paneelwerk binne kreun en kraak soos die boot vervorm.
Soms klap die katrolle soos die boot wieg op die water, veral as die
wind swak is. Die seil klap ook so van tyd tot tyd as die wind swak
is.
Maar
dit alles dra by tot die kokon van stilte hier om my.
Dan
is daar ook die boot se beweging. Nou is dit sag en wiegerig in die
kalm see. Die deining is so tussen een en twee meter. Dis anders in
'n sterk wind. Dan raas die boot en stamp baie. En maak ander
geluide, minder rustig. 'n Mens ontwikkel naderhand 'n gevoel vir die
omgewing en die weer op grond van die geluide. Jy stel dan die seil
om gelukkige geluide te hoor.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
No comments:
Post a Comment