2011-12-20
03h00
Gister
weer 'n boodskap van Carol af gekry.
Dit
klink of dit goed gaan. Die Volvo is nou reg, sê sy. Nou is dit nog
my telefoonsage. Ek hoop eintlik dat dit ook uitgesorteer is.
Gister
het ons baie lekker wind gehad en het lekker geseil. Om presies te
wees het ons amper twee volle dae geseil sonder o die enjin te
gebruik. Vanoggend, knap voor ek aan diens kom, het Renier die enjin
aan die gang gesit omdat die wind gaan lê het. Ek het amper gedink
dis oor 'n groot skip te naby aan ons is.
Ons
het gister vyf skepe gesien. Die ene het voor ons verbygevaar op 'n
afstand van seker so 800m. Ons het rondgewaggel in sy vaarwater, so
naby was dit. Dink 'n bietjie; Die hele grote oseaan, en twee
vaartuie het amper 'n “near miss” op 'n botsing. Gelukkig was dit
in helder daglig. My indruk van die gebeurtenis is dat die vragskip
se bemanning nie juis omgee vir ons nie.
Ons
is nou so honderd seemyle van Brasilië se kus af en seil parallel
met die kus. Oor 'n paar dae sal ons die mond van die Amasone-rivier
oorsteek. Die reis raak nou meer interessant.
In
terme van 'n vorderingsverslag is mens nou in staat om jou posisie te
gee relatief tot landmerke, instede van 'n kruisverwysing van
ko-ordinate in die middel van die oseaan. Jy kan jou posisie Google
as jy internet toegang het en jy sal land daar naby sien. Relatief
gesproke, natuurlik.
Honderd
seemyle is nog steeds 'n groot deel van 'n dag se seil. Dis omtrent
so ver as van Pretoria na Kroonstad.
Ons
kos raak nou beduidend minder. Die vrieskas raak leeg, so ook die
koskaste. Ons is nou op ons voorlaaste boks beskuit. Die sout is
amper op, dan moet ons die growwe soutmeul gebruik. Ons begin alreeds
beplan vir ons Kersmaal. Daar is darem 'n bottel vonkelwyn van JC le
Roux.
Ek
begin nou minder lees. Ek vermoed ek is lees-tam van al die worstel
met Michener se Source. Dit raak bietjie woes en mens is naderhand
bietjie gatvol vir die verweefdheid van die geskiedenis. Michener
moet 'n man wees van erge deursettingsvermoë
om so 'n werk te voltooi. Die boek bestaan uit sewe of meer stories
wat saamgegooi word om Israel en die Jode se geskiedenis te plot.
Telkens is daar verhale van menslikheid, onmenslikheid en wreedhede.
Dit raak eentonig.
My
navigasievermoë is nou
mooi afgerond. Soms sukkel ek om te besluit oor die basiese
verwysings, dan kos dit my herberekening van die lesings. Die
resultate is telkens in die kol en die soort probleme wat ek kry is
verfynings. Ek het waarskynlik (hopelik) die sekstant se nukke
uitgesorteer.
Die
indeks-spieël wil nie
stabiliseer nie en die indeksfout het heeltyd verander. Selfs van
voor die lesings tot na die lesings. Ek het toe die spieël
ontmantel, die montering en die stelmeganisme nagegaan, en die
spieël weer teruggesit.
Die montering en die stelmeganisme is toe blootgestel en ek was in
staat om die probleem te analiseer. Nadat ek die spulletjie weer
aanmekaar gekry en gekalibreer het, lyk dit asof ek nou die probleem
hok geslaan het. Ek neem steeds lesings van die son. Vir 'n geruime
tyd het ons nou al genoeg wolke dat mens nie sterrelesings kan neem
in die skemertyd nie. Ons is so naby aan die ewenaar dat
mens in elk geval nie juis 'n lang skemertyd het nie. Jy moet maar gou speel om
jou lesings te kry vandat jy die sterre kan sien tot die horison
verdwyn in die donker. Wanneer daar wolke is, is jy basies gesnoeker.
Die
sterrebeelde is natuurlik nou anders as by die huis. Orion, byvoorbeeld,
staan regop, nie op sy kop soos gesien uit Suid Afrika nie. En party
van die ander bekende sterrebeelde is nie meer heelnag sigbaar nie.
Soos die Suiderkruis, byvoorbeeld. En daar is nou 'n ander stel
sterre wat sigbaar is. Ek sal bietjie die Poolster soek as daar weer
'n oop naghemel is. Ek dink ons behoort die ster te kan sien van 5
grade suid af.
Steeds
het ons geen dolfyne gesien nie, met die uitsondering van die enkele
wat Renier gesien het. Dit is teen die verwagting in en ons sit en
wonder wat die redes daarvoor kan wees. Ons sien darem weer voëls.
'n Mens kan amper begin verstaan watter nood Noag van ouds in sy ark
moes gehad het na veertig dae sonder sig van land. Ons hele reis is
in dieselfde grootte-orde. Ons het egter die voordeel van kaarte,
navigasie-inligting en ons kan selfs op 'n eenvoudige manier
weerinligting bekom. Ons doen dit deur Renier se pa te bel, dan soek
hy die inligting op 'n internet webbblad, waarna hy dit sms na ons
toe, alles per satelliet-telefoon. Mens wonder hoe moes Noag en sy mense
gevoel het so op die oop water, sonder al hierdie hulpmiddele. Meer
nog, hulle het nie geweet of daar nog ander mense oor was op die
aarde nie. Dit moes half vreesaanjaend gewees het.
Simon Winchester
bespreek ook 'n element hiervan in sy boek Atlantic. In die era van
die ontdekking van die nuwe wereld het die seevaarders ook nie juis
veel inligting gehad nie. As jy in daardie tyd by die hawe uitgeseil
het, was jy maar in dieselfde bootjie, by wyse van spreke, as Noag
destyds. Veral ten opsigte van die sielkunde van die situasie. Noag
het sy ding gedoen in opdrag van sy God, die Europese
ontdekkingsreisigers het 'n wilsbesluit gemaak en uitgevoer. Die
wilsbesluit is aangevuur deur waarskynlik ekonomiese redes. Hulle wou
ryk word.
In
sy boek The Wayfinders bespreek Wade Davis die Polinesiërs
se vermoë en tegnieke om
oor die Stille Oseaan rond te vaar sonder om juis te verdwaal. Hulle
het nie 'n geldhonger ekonomie gehad nie, dus was hulle seereise meer
van 'n sosiale aard, om nuwe eilande te beset, besoek of iets dergeliks. Dis
interessant om te dink dat die Polinesiërs
vir 'n paar duisend jaar die Stille Oseaan bevaar het sonder die
hulp van kaarte, kompas of enige ander meganiese hulpmiddels. Hulle
het die sterre verstaan en ook die weerkunde van die omgewing.
Daarteenoor het Ferdinand Magellaan die hele Stille Oseaan oorgesteek sonder om een van die duisende eilande van daardie oseaan raak te ry. Die Mariana Eilande, waar hy die eerste keer aan land gegaan het, is basies al amper by Australië. Hy het darem by een of twee ander eilande verbygeseil sonder om te land. Waarskynlik is dit as gevolg van 'n gebrek aan verstaan van die weerkunde, want die eilande in die Stille Oseaan is in die orde van 50 seemyle uitmekaar, net so buite sig. En Magellaan moes tussen hierdie kettings of reekse van eilande deurvaar. Miskien is dit sy straf gewees vir een of ander sondes waarvoor die Here hom oor die oseaan laat swerwe het. Soos die Israeliete van ouds bietjie moes rondswerf in die woestyn destyds.
Daarteenoor het Ferdinand Magellaan die hele Stille Oseaan oorgesteek sonder om een van die duisende eilande van daardie oseaan raak te ry. Die Mariana Eilande, waar hy die eerste keer aan land gegaan het, is basies al amper by Australië. Hy het darem by een of twee ander eilande verbygeseil sonder om te land. Waarskynlik is dit as gevolg van 'n gebrek aan verstaan van die weerkunde, want die eilande in die Stille Oseaan is in die orde van 50 seemyle uitmekaar, net so buite sig. En Magellaan moes tussen hierdie kettings of reekse van eilande deurvaar. Miskien is dit sy straf gewees vir een of ander sondes waarvoor die Here hom oor die oseaan laat swerwe het. Soos die Israeliete van ouds bietjie moes rondswerf in die woestyn destyds.
Maar
ons verdwaal darem nie. Nie soos een dametjie by my plaaslike
haarkapper nie. Hulle het op 'n seereis van die Kaap na Rio iewers op
die see vir drie dae lank verdwaal.
Ek
is nie seker hoe mens dit regkry nie.
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12
Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12